Friday, 27 April 2012

Woord skilder

Wit papier is my skilderdoek
en 'n swart pen my verfkwas.
Woorde vorm die prentjies
wat jou verbeelding voëlvry omhoog laat wentel
en jou gedagtes soos arendsvlerke oop laat sprei.
Speels laat ek jou laggend giggel met kleuterskool rym,
net om jou hart ongemaklik deurmekaar
weer depressief in die grond te druk
as ek elke reël verbreek.
Ja wit papier is my skilderdoek
en 'n swart ink pen my verfkwas.

Kruispad

Dag vir dag
oomblik vir oomblik
en tree vir tree
stap ek die via dolorosa pad
uitgebytel in rots en klip.
Deur skerp S-draaie
en oor growwe klip
beur ek selfversekerd voort.
Vir wat?
Want aan die anderkant
wag daar 'n hand –
'n Kruishout-offer vir my tot die dood toe aangerand.

Yspaaie met warm bestemmings

Leë mense met gevriesde siele
kyk met melkerige glasoë stip vorentoe
terwyl hulle voortbeur teen die ysige
aanslae van die lewe.

Langs die gryse ysweg word hul aangerand
deur woorde soos yskristalle,
gespreek deur medemense met die doel
om te sny tot op murg en been.

Maar hierteen is hulle reeds bestand
want Emosie en Liefde is reeds lank terug dood.

Dan skielik staan die kruishout kaal
met die Jesus-kind daaraan vas genael.
Daar’s 'n sonskyngloed wat daarvan straal.
Dit het emosie en lewe en
O tog soveel liefde.

En al wat dit vra
om dit in jou hart te mag dra
is dat jy jou sal verbind
aan die pyn van daardie kruishout Kind.

Monday, 23 April 2012

Onpeilbaar

Gou wil ek net iets neerskryf.
Wil ek my emosies op papier vaspen.
Maar sukkel ek om dit vas te vang
in vers en rym.
Rats ontwyk my eie gevoelens my.
Los dit my met leë hande.
Verbaas, verdwaas, geskok.

Saturday, 21 April 2012

Visgraat-liefde

As liefde visgraat dwars
in jou keel vas steek.
Verstik, verwurg, versmoor,
vermoor dit jou.
Eers rooi, dan blou en dan
bloedbelope is jou oë.
Angsbevange wil jy skreeu.
Dan wit en stil as jy rustig jou
laaste asem ook verloor.
As liefde visgraat dwars
in jou keel vas steek.

Tuesday, 17 April 2012

Uitdrukkinglose gesigte

Langs die lewensbaan met swart paviljoen
Staan blanko-gesigte in 'n winter seisoen
Iewers, in doodse stilte en ongesiens,
flits die lewe in 'n oogknip verby.

Is mens nog mens?
Of is mens nou dood?
Begrafnisse sonder trane?
Troues sonder sange?

Blanko-gesigte op ʼn swart paviljoen.

Maskers

Twee-gesig
en agterbaks
Gesig vir die huis
Gesig vir die klas
Soos 'n vaardige “Juggler”
met kegel en bal
word hul verwissel vir jare al
Sonder struikel
en sonder fout
Agterbaks
en twee-gesig

Monday, 16 April 2012

Perspektief

Ek kyk en kyk, weer en weer.
Perspektief verander, keer op keer.
Eers half-vol-leë-glas
Dan half-leë-vol-glas

'n Misvoltreffer veroorsaak ongeluk
en Serendipity se trane laat die keelknop ongemaklik sluk

In elke oorverdowende asemteug
Is daar stille verwagting om te oorleef.
My traanbelope oë se perfekte visie
Sien mistig helder my siel se kamikaze missie.

'n Misvoltreffer veroorsaak ongeluk
en Serendipity se trane laat die keelknop ongemaklik sluk

Perspektief is om die ander opsie ook te sien
Om realiteit van die anderkant te dien
Alle kante van dieselfde munt
Die geskeurde hart bly die middelpunt

'n Misvoltreffer veroorsaak ongeluk
en Serendipity se trane laat die keelknop ongemaklik sluk

Sunday, 15 April 2012

Alleen

As dit stil, stiller, stilste word
Word gedagtes hoorbaar oorverdowend
Wat is die vergelykings trappe van alleen?
Alleen, alleener, alleenste?
Kan stilte werklik soveel weeg?
Kan alleenheid werklik so omvou?
n Kluisenaar in n massa.
n Uitgewerpene tussen vriende.

Trane wil loop en hart wil skeur
maar die dam is droog
en die hart gebreek.
Ek wil fetus lê en net laat gaan.
Maar daar is niks meer oor.
Geen trane, gevoel, liefde of haat.
Net dorre leegte sonder emosie.

Liefde word n onverstaanbare begrip.
n Woord sonder 'tekenis.
n Gedagte onbegryplik.

Stil, stiller, stilste.
Alleen, alleener, alleenste.
Dood.....