Monday, 26 November 2012

Ongeskrewe

Ongebore
en ongesien
Ongespeen
en ongetand
Ongelief
en onversorged
Onbelese
en ongeskoold
Ongesê
en ongehoord
Ongeskrewe
en ongesiend
Ongehuud
en ongeskei
Ongebonde
en onbeperk
Ongeduld
en ongeërg
Ongenoeë
en ongerus
Ongevoeglik
en ongeklee
Ongeskik
en ongesog
Ongebore
en onontslaap

Monday, 29 October 2012

Trane

Wanner suurreën jou trane is,
jou hart nie klop nie maar skeur,
en die bloed in jou are verkeerd om vloei,
en God net ander hoor en antwoord,
en jy alleen is tussen tienduisend,
kan jy nie anders as om oor die dood te dink nie,
en te wonder. . . . . .

11/11/2011

Tuesday, 25 September 2012

Lentebloeisel

Lentebloeisel vrugsbelofte, fyn-en-mooi
Self Salomo se lelies was nie so getooi.

Lentebloeisel vrugsbelofte, soet-van-geur
Self albasterflessie olie is nie so gekleur.

Lentebloeisel vrugsbelofte, sag-sonder-woorde
Alleen eng'le harpe speel sulke mooi akkoorde.

Lentebloeisel vrugsbelofte, onbewuste-eie-prag
Selfs die hem'le-gewelf bekoor nie so in die nag.

Lentebloeisel vrugsbelofte, my-hart-gesteel
Selfs my trane word deur jou geheel.

Lentebloeisel vrugsbelofte, een-tussen-duisend
Het God jou self gekies vir Hom al juigend.

Lentenbloeisel vrugsbelofte, kind-van-God
Vir jou het Hy tot die dood gely, Sy hartsgebod.




Met dank aan my Hemelse Vader en vriende wat my so inspireer.

Saturday, 25 August 2012

Hersenskin van Liefde

Soos ʼn bedrieglike marige in die woestyn,
belofte van water hou.
So is die illusie van liefde net ʼn hersenskim,
wat die siel, met hoop, terg.
Terg met 'n vreugdevolle en opgewonde ritme,
en laat so die metrum van my lewe
verby tik, tik, tik .......
Terwyl my siel tydloos
tot doodse stilstand gedwing word.
Vind ek my gedwonge oor my lewe bepeins,
in 'n denkelose wêreld.
Vind ek meer egtheid in trane,
as die hartseer van die dood,
by die oop bek van 'n graf.

Tuesday, 7 August 2012

Sonnet van die dood

Kon ek maar my eie dood bepaal
Het ek maar geweet wanneer is die uur
Wanneer ek ń laaste asemteug moet verduur
Die lewenstreep vir my getrek - behaal

Kon ek maar self die oomblik kies - bewus
Waar lewe en dood se paaie skei
Waar ek vir eens kon ophou lei
Vir ewig sluimer in Sy rus

Kon ek maar my eie dood bepaal
Self my lewensuur uitloot
Self my ewigsrus kon kies
Sou ek dan nog ń lewensjaar wou haal
Sou ek dan nog ń kwantum bysit voor die dood
Sou ek kon wag om rus in dood te vries


Thys
07/08/2012

Nagedagte.
Vandag het dit in Pretoria by my huis gesneeu.

Monday, 6 August 2012

Lengte Rus

So baie wonder ek
Hoe die anderkant lyk.
Wens ek die kloof daarheen
Is nie so onoorkomlik wyd.
Met smeking in gebed
Vra ek Here gee my tog gelyk.
Gee my tog vrede
By waters van rus.
Waar ek my oë kan sluit
Tot in lengte van tyd.

Thursday, 10 May 2012

Marionet

Die “puppeteer” wat my hart verskeur
want ek is 'n marionet want geen keuse het.
Diep binne my skreeu dit uit
ek wil self besluit!
Ek wil elke liewe toutjie knip,
sal liewer doodstil eenkant sit.

Binne my draai 'n warrelwind
wat heel my lewe kom verslind.
Stofstorms wat al erger woed
daar’s niks wat ek kan doen om dit te verhoed.

Dit raak vir my net te veel
ek kan dit nie alleen hanteer.
Sal ek ooit weer myself kan heel
of bly ek maar vir altyd seer?

Bly ek maar 'n marionet
wat eintlik geen keuse het?
of ruk ek los
wat my alles gaan kos.
Gaan ek met my lewe betaal
om 'n oomblik se vryheid te behaal?

Lewenslied

Kitaarsnaar-sang sing my emosies uit.
Op die maat van 'n pizzicato-pluk
word my lewe rond geruk.
Elke growwevinger laat my smag
na die mooi melodie van 'n verlore dag.
My wipplank lewe vorm noot vir noot
my lewenswysie op die toonleerbalk spesiaal daarvoor uitgeloot.
Ander skryf die lirieke
vir my daaglikse mimieke.
Kitaarsnaar-sang sing my emosies uit.
Styf gespan vir my lewens-sang.

Thursday, 3 May 2012

My vrou is weg

My vrou is weg.
Trane is hier.
Kan jy hoor?
My vrou is weg!!
en dit breek my.
My gedagtes hou aan om terug te rol,
en elke keer breek ek weer van vooraf.
My vrou is weg!!
en al wat ek het, is die stukkies.
Stukkie gedagtes, stukkies onthou, stukkies liefde.
Niks is meer heel nie.
Nie tyd, ruimte of plek nie.
Die seer word nie beter nie.
Die trane word nie minder nie.
Die stilte word nie sagter nie,
en die leegheid word nie voller nie.
My vrou is weg.
Kan jy hoor?
My vrou is weg!!!!
Net trane is hier.

Friday, 27 April 2012

Woord skilder

Wit papier is my skilderdoek
en 'n swart pen my verfkwas.
Woorde vorm die prentjies
wat jou verbeelding voëlvry omhoog laat wentel
en jou gedagtes soos arendsvlerke oop laat sprei.
Speels laat ek jou laggend giggel met kleuterskool rym,
net om jou hart ongemaklik deurmekaar
weer depressief in die grond te druk
as ek elke reël verbreek.
Ja wit papier is my skilderdoek
en 'n swart ink pen my verfkwas.

Kruispad

Dag vir dag
oomblik vir oomblik
en tree vir tree
stap ek die via dolorosa pad
uitgebytel in rots en klip.
Deur skerp S-draaie
en oor growwe klip
beur ek selfversekerd voort.
Vir wat?
Want aan die anderkant
wag daar 'n hand –
'n Kruishout-offer vir my tot die dood toe aangerand.

Yspaaie met warm bestemmings

Leë mense met gevriesde siele
kyk met melkerige glasoë stip vorentoe
terwyl hulle voortbeur teen die ysige
aanslae van die lewe.

Langs die gryse ysweg word hul aangerand
deur woorde soos yskristalle,
gespreek deur medemense met die doel
om te sny tot op murg en been.

Maar hierteen is hulle reeds bestand
want Emosie en Liefde is reeds lank terug dood.

Dan skielik staan die kruishout kaal
met die Jesus-kind daaraan vas genael.
Daar’s 'n sonskyngloed wat daarvan straal.
Dit het emosie en lewe en
O tog soveel liefde.

En al wat dit vra
om dit in jou hart te mag dra
is dat jy jou sal verbind
aan die pyn van daardie kruishout Kind.

Monday, 23 April 2012

Onpeilbaar

Gou wil ek net iets neerskryf.
Wil ek my emosies op papier vaspen.
Maar sukkel ek om dit vas te vang
in vers en rym.
Rats ontwyk my eie gevoelens my.
Los dit my met leë hande.
Verbaas, verdwaas, geskok.

Saturday, 21 April 2012

Visgraat-liefde

As liefde visgraat dwars
in jou keel vas steek.
Verstik, verwurg, versmoor,
vermoor dit jou.
Eers rooi, dan blou en dan
bloedbelope is jou oë.
Angsbevange wil jy skreeu.
Dan wit en stil as jy rustig jou
laaste asem ook verloor.
As liefde visgraat dwars
in jou keel vas steek.

Tuesday, 17 April 2012

Uitdrukkinglose gesigte

Langs die lewensbaan met swart paviljoen
Staan blanko-gesigte in 'n winter seisoen
Iewers, in doodse stilte en ongesiens,
flits die lewe in 'n oogknip verby.

Is mens nog mens?
Of is mens nou dood?
Begrafnisse sonder trane?
Troues sonder sange?

Blanko-gesigte op ʼn swart paviljoen.

Maskers

Twee-gesig
en agterbaks
Gesig vir die huis
Gesig vir die klas
Soos 'n vaardige “Juggler”
met kegel en bal
word hul verwissel vir jare al
Sonder struikel
en sonder fout
Agterbaks
en twee-gesig

Monday, 16 April 2012

Perspektief

Ek kyk en kyk, weer en weer.
Perspektief verander, keer op keer.
Eers half-vol-leë-glas
Dan half-leë-vol-glas

'n Misvoltreffer veroorsaak ongeluk
en Serendipity se trane laat die keelknop ongemaklik sluk

In elke oorverdowende asemteug
Is daar stille verwagting om te oorleef.
My traanbelope oë se perfekte visie
Sien mistig helder my siel se kamikaze missie.

'n Misvoltreffer veroorsaak ongeluk
en Serendipity se trane laat die keelknop ongemaklik sluk

Perspektief is om die ander opsie ook te sien
Om realiteit van die anderkant te dien
Alle kante van dieselfde munt
Die geskeurde hart bly die middelpunt

'n Misvoltreffer veroorsaak ongeluk
en Serendipity se trane laat die keelknop ongemaklik sluk

Sunday, 15 April 2012

Alleen

As dit stil, stiller, stilste word
Word gedagtes hoorbaar oorverdowend
Wat is die vergelykings trappe van alleen?
Alleen, alleener, alleenste?
Kan stilte werklik soveel weeg?
Kan alleenheid werklik so omvou?
n Kluisenaar in n massa.
n Uitgewerpene tussen vriende.

Trane wil loop en hart wil skeur
maar die dam is droog
en die hart gebreek.
Ek wil fetus lê en net laat gaan.
Maar daar is niks meer oor.
Geen trane, gevoel, liefde of haat.
Net dorre leegte sonder emosie.

Liefde word n onverstaanbare begrip.
n Woord sonder 'tekenis.
n Gedagte onbegryplik.

Stil, stiller, stilste.
Alleen, alleener, alleenste.
Dood.....